Verligtingsfonds kan nie atlete se inkomste vervang

Die verligtingsfonds van R150 miljoen wat deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur op die been gebring is nadat die Covid-19-pandemie die land tot stilstand geruk het, het hoofsaaklik ten doel om verligting te bied aan mense in die bedrywe. Dit kan egter nie die vergoeding wat hulle gedurende die tyd sou verdien, vervang nie. 

Dit is volgens Masechaba Khumalo, woordvoerder van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. 

“Die doel van dié fonds is om ondersteuning aan atlete te bied wat aan byeenkomste sou deelneem tussen 16 Maart en 30 Junie 2020,” het Khumalo aan MatieMedia gesê.

Sedert Nathi Mthethwa, Minister van Sport, Kuns en Kultuur, dié fonds op 25 Maart aangekondig het, is uitbetalings reeds gemaak aan individue wat deel is van die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes. 

Dié sluit onder meer atlete in die volgende dissiplines in: branderplankry, driekamp, netbal, gimnastiek, skermkuns, kanovaart en gholf deelneem.  

Volgens Khumalo moes atlete aan die kriteria van die verligtingsfonds voldoen om vir finansiële ondersteuning in aanmerking te kom. 

Die kriteria sluit in dat atlete, afrigters, tegniese- en ondersteunende personeel slegs ’n inkomste sou genereer het vanuit die byeenkomste wat weens die Covid-19-pandemie gekanselleer of uitgestel is.

Finansiële ondersteuning word gebied in die vorm van ’n eenmalige betaling oor ’n tydperk van vier maande.

“My enigste vorm van inkomste is deur middel van atletiek,” het Charl du Toit, ’n Suid-Afrikaanse paralimpiese atleet en MEd Onderwys-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), gesê. 

Du Toit het gesê hy voldoen aan die kriteria van die verligtingsfonds, omdat hy geen ander vorm van inkomste ontvang nie en deel vorm van die Operation Excellence-program (OPEX). Hy het ook reeds sy uitbetaling van die fonds ontvang. 

Volgens dr. Suzanne Ferreira, Du Toit se afrigter, is baie atlete tans onder finansiële druk weens die kansellasie van alle sportbyeenkomste.

“Sport is deel van die prestasiewêreld en atlete se inkomste word deur hul prestasie bepaal,” het Ferreira gesê. “Die atlete wat ek afrig is tans sonder enige vorm van inkomste, óf is afhanklik van beurse, hul families, of hul deeltydse- of voltydse beroep om hulself te onderhou.” 

Du Toit beskou die verligtingsfonds as ’n bonus.

“Ek het tans baie begrip en empatie met ons regering – hulle help waar hulle kan,” het Du Toit gesê.

Bonzai Photography - Charl Du Toit-3 verligtingsfonds

Charl du Toit pas nadat hy die wêreldrekord in die 100m by die 2016 Paralimpiese Somerspele in Rio de Janeiro gebreek het, met ’n tyd van 11.42 sekondes. FOTO: Martin Potgieter/Bonzai Photography

Volgens Khumalo sal Mthethwa binnekort ’n verklaring uitreik rakende verdere uitbetalings uit die fonds.

, ,