Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het onlangs besluit op ’n revolusionêre tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT tot by Z. Die WAT is in 1951 vir die eerste keer gepubliseer, maar het net woorde van A tot C bevat. Tans trek die redaksie by S.
Vyf nuwe redaksielede is verlede jaar aangestel om te help om die WAT vinniger by Z uit te kry. “Die plan is om met die hulp van die bykomende personeel die oorblywende vyf dele tot by Z teen 2029 te voltooi,” het Alet Cloete, een van die WAT se mederedakteurs, gesê. “Elke deel moet dus binne twee jaar voltooi word.”
Deel XV van die WAT word hierdie maand bekendgestel. Gebruikers sal voorlopig vanaf 30 April die boek kan aanskaf of aanlyn kan naslaan.
Deel XVI se produksieproses het reeds in Januarie begin. “Dié deel sal die derde en laaste deel oor die letter S wees,” het die WAT se hoofredakteur en uitvoerende direkteur, Dr. Willem Botha, gesê.
“Deel XVI sal voorlopig strek van sroeti tot szonditoets,” het Cloete vertel. “Dit is wat ons kaartversameling op die oomblik te kenne gee, maar dit is moontlik dat ander woorde nog bygevoeg kan word.”
Volgens Cloete is die WAT die omvattende, meerdelige verklarende woordeboek met van die meeste kopers van gedrukte boeke ter wêreld. Afrikaanse lesers hou daarvan om woordeboeke in die huis te hê. “Kopers bemaak dikwels hul boekversameling aan hul kinders en om sentimentele of nostalgiese redes wil die erfgename ook die boekweergawes bekom. Omdat die voortbestaan van Afrikaans bedreig word, is daar opnuut ’n belangstelling in en waardering vir Afrikaanse boeke,” het Cloete bygevoeg.
Alhoewel daar dalk ’n groot vraag is aan gedrukte boeke, is dit nie meer moontlik om die WAT vir lank te druk nie. “Drukkoste is geweldig hoog en die hele persklaarmaakproses vir ’n boekpublikasie is ook baie tydrowend,” het Botha gesê.
“Deel XVI sal egter die laaste gedrukte uitgawe wees. Vanaf die letter T sal die WAT slegs aanlyn gepubliseer word,” het hy gesê.
Wat die WAT anders as ander woordeboeke maak, is dat dit meer omslagtig is en meer inligting bevat. “Die gebruik van die WAT ontsluit soveel meer inligting as byvoorbeeld die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) omdat ons soveel meer woorde opneem,” het Esmaré van der Merwe, mederedakteur van die WAT, verduidelik.
“Daar is streektaal, vaktaal (in eenvoudige woorde verklaar), ouer woorde en die heel nuutstes. Daar is voorbeeldsinne uit publikasies. Daar is ’n magdom taalkundige inligting soos morfologie, sinonimiteit en wisselvorme,” het sy gesê.
Elke student van die Universiteit Stellenbosch (US) het gratis toegang tot die Aanlyn WAT wat deel vorm van die e-bronne van die universiteit se biblioteek.