Wat is in dáárdie bokse in die Neelsie?

’n Voedselinsamelingsprojek ten bate van minderbevoorregte studente skop op 14 April in Stellenbosch Universiteit (SU) se Neelsie Studentesentrum af.

Dit is volgens Faizel Moos, die bestuurder van die Neelsie-verhuringskantoor.

Die Food-a-thon is ’n projek van die Maties Giving-inisiatief, in samewerking met die SU se afdeling vir ontwikkeling en alumnibetrekkinge, het Moos gesê. 

Die inisiatief sal nie-bederfbare voedsel vir minderbevoorregte studente op kampus insamel deur gebruik te maak van drie kleurvolle bokse wat in die Neelsie staan, het Nicky Adams, promosiebeampte van die Neelsie-verhuringskantoor, gesê.

Colourful Box

Drie kleurvolle bokse sal vanaf 14 April in Stellenbosch Universiteit se Neelsie Studentesentrum wees, waar studente nie-bederfbare voedsel kan bydra tot die Food-a-thon, het Faizel Moos, bestuurder van die Neelsie-verhuringskantoor, gesê. FOTO: Marise Schoonraad

Die vroue wat by die SU se Neelsie-verhuringskantoor in die Neelsie werk, het met die Food-a-thon-idee vorendag gekom, het Moos gesê.

“Hulle is almal ma’s […] en hulle almal het daardie moederlike instink om te wil voorsien vir ’n kind,” het Moos gesê.

Die idee agter die reusebokse was dat dit moet uistaan, sodat almal in die Neelsie dit kan sien, het Adri Brits, fasiliteitskoördineerder by die Tygerberg kampus gesê.

“Die bokse moes groot wees, want daar is baie mense wat wil gee,” het Brits gesê.

Die bokse word deur Amber van Dyk, ’n alumni aan die Universiteit van Stellenbosch se visuele kunste-departement, geverf, het Adams gesê. 

Sy verf die bokse in die Neelsie, sodat dit nuuskierigheid kan aanwakker, het Adams gesê.

Amber painting the box

Amber van Dyk verf een van die bokse in Stellenbosch Universiteit se Neelsie Studentesentrum. Sy verf die bokse ten aanskoue van studente om hulle nuuskierig te maak oor die projek, het Nicky Adams, promosiebeampte van die Neelsie-verhuringskantoor, gesê. FOTO: Marise Schoonraad

“Almal wonder wat is die storie met die bokse,” het Adams gesê. Hulle het al heelwat positiewe terugvoering oor die bokse ontvang, volgens Adams.

Nuuskierigheid oor die verf van die bokse 

Daar is baie nuuskierigheid oor waarmee sy besig is, wanneer sy sit en verf, het Van Dyk gesê.

“Dit genereer belangstelling en mense volg die proses – hulle nuuskierigheid maak dit meer waarskynlik dat hulle sal terugkom,” het Van Dyk gesê.

Die inspirasie agter die kleurvolle bokse, was om ’n gevoel van gemeenskap te kweek, het Van Dyk gesê.

Daar is ook ’n son-motief wat straal en dit simboliseer hoe mense bereid is om te gee, het Adams gesê.

Die Food-a-thon skop amptelik op 14 April af, tesame met die weeklikse mark op die Rooiplein, waar uitstallers die winste wat hul genereer ook gaan skenk vir die projek. 

Student walking next to box

Deur die Food-a-thon-projek hoop die organiseerders om mense betrokke te kry, het het Faizel Moos, bestuurder van die Neelsie-verhuringskantoor gesê. Hulle hoop ook dat dit ’n jaarlikse  projek kan word. FOTO: Marise Schoonraad

Read here for the English version of this article.