Deel XVI (16) van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is onlangs aanlyn bekendgestel met die herdenking van dié woordeboek se 95ste bestaansjaar.
Die WAT is ’n weerspieëling van al die variëteite van Afrikaans, en nie net Standaardafrikaans nie, het Dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, tydens die bekendstelling gesê.
Dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), het die nuutste gedrukte uitgawe van dié woordeboek onthul. FOTO: Facebook/Die WAT
’n Groot besprekingspunt by dié geleentheid was ’n projek wat, volgens Botha, poog “om Kaapse Afrikaans [ook bekend as Kaaps] tereg te laat kom in die woordeboek”.
Kaaps is volgens Dr Gerda Odendaal, leier van dié projek en mederedakteur van die WAT, een van die grootste, asook een van die oudste, variëteite van Afrikaans, maar het vanweë Suid-Afrika se “ongelukkige” politieke verlede, nie altyd die erkenning en verteenwoordiging gekry wat dit toekom nie.
Daar is egter oor die afgelope paar jaar hernieude belangstelling in, en aanvraag na, die verteenwoordiging van Kaaps, het Odendaal gesê. Dít het die WAT aangespoor om in Junie 2020 met hierdie projek te begin om gapings in die woordeboekopname van Kaaps te oorbrug, het sy verduidelik.
Die projek het volgens Odendaal aanleiding gegee tot die toevoeging van sowat 100 Kaapse Afrikaanse woordeboekinskrywings in Deel 16. Dít sluit in unieke Kaapse Afrikaanse begrippe, soos ‘soema’, ‘sturvy’ en ‘swirlkous’, en uitdrukkings soos ‘sterk gevreet trek’. Moslemafrikaans-items wat óók deel vorm van Kaaps – soos ‘shukraan’, ‘soenat’ en ‘salaah maak’ – is ook ingesluit.
Kenners op die gebied van Kaaps, soos Prof. Frank Hendricks, asook kenners van Moslemafrikaans, soos Dr Shamiega Chaudhari, is by die projek betrek om te verseker dat die begrippe wat opgeneem word, akkuraat weerspieël “hoe Kaaps werklik deur die sprekers gebruik word”, het Odendaal gesê.
Die WAT hoop, volgens Odendaal, om met dié projek “uiting te gee aan die gelykwaardigheid van ál die variëteite van Afrikaans, en sodoende [’n] werklike tuiste vir álle sprekers van Afrikaans te wees”.
Die projek sal voortgaan om woorde by te werk ná die verskyning van Deel 16, het Odendaal bygevoeg.
Die WAT het ook ’n aantal jare terug die jaarlikse Borg ’n woord-projek geloods. Hierdeur kan mense Afrikaanse woorde borg om moontlik opgeneem te word in die WAT. Dít is om “sprekers van Afrikaans bewus te maak van die [taal se] woordeskat”, het Prof. Rufus Gouws, ondervoorsitter van die WAT-direksie, gesê. Die Kaapse Afrikaanse woord ‘masekin’ is byvoorbeeld vanjaar deur die Afrikaanstalige skrywer, Bettina Wyngaard, geborg.
Bettina Wyngaard, ’n Afrikaanstalige skrywer, het die Kaapse Afrikaanse woord ‘masekin’ geborg as deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se jaarlikse Borg ’n Woord-projek. FOTO: Facebook/Die WAT
Voorbeelde van die unieke woorde wat in Deel XVI (16) van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) opgeneem is. ILLUSTRASIES: Candice Jantjies. Bron: Youtube/Die WAT