Stellenbosch-inwoners het hulself te danke vir die verlaging van strawwe waterbeperkings. Dié dorp se waterbeperkings, wat tans op vlak 2 staan, was verlede jaar voor die winterreën op vlak 6B.
Vlak 2 beteken dat inwoners nie meer as 150 liter water per dag mag gebruik nie, ongeag of hulle dit tuis, by hul werke of skole gebruik. Dít teenoor die nie meer as 50 liter ’n dag vir vlak 6B-waterbeperkings nie. Die munisipaliteit beoog om 30% van sy vorige inname van oppervlak-water te bespaar. ’n Kennisgewing op die munisipaliteit se webwerf stipuleer dat indien dié besparing nie bereik word nie, sal daar strenger beperkingsmaatreëls ingestel word.
Stuart Grobbelaar, Stellenbosch Munisipaliteit se woordvoerder, verduidelik dat die waterbeperkings verslap is ná deeglike oorweging en aanbevelings deur die nasionale asook provinsiale regerings. Hy voeg by dat hulle “deurlopend in kontak [bly] met die nasionale en provinsiale owerhede wat die vlakke van die beperkings aanbeveel”.
Dr. Willem de Clercq, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut, meen dat die watervlakke teen die einde van die droogte verlede jaar hoër as ander damme in die streek was en dat die Stellenbosch-inwoners grootliks hiervoor te danke is.
Grobbelaar deel De Clercq se sentiment dat inwoners ’n groot rol gespeel het en voeg ook by dat aanvullingsprogramme, soos die boor van nuwe boorgate en die installering van versuiweraars wat boorgatwater in drinkwater omskep, bygedra het tot die verslapping van waterbeperkings.
“Dit het veroorsaak dat ons damme gouer weer oorgeloop het nadat die reën begin het. Die munisipaliteit het dit dus goed gedink om die beperkings te lig,” verduidelik De Clercq.
De Clercq sê dat die Theewaterskloof-stelsel (36%) tans slegs die Paradyskloof-omgewing van water voorsien. Die hoofwaterbron vir die groter Stellenbosch-omgewing kom volgens De Clerq uit damme in Helshoogte. Die Bergrivierdam staan tans op 68% kapasiteit en Wemmershoekdam staan tans op 42,8% kapasiteit.
Inwoners het gehelp dat watergebruik geweldig afneem en dit word volgens De Clercq aan die huidige watergebruik asook die terugvloei na die rioolplaas gemeet.
“Die onlangste syfers toon dat die afloop na die rioolplaas gedurende die droogtetydperk met omtrent die helfte verminder het en dit het daarna marginaal toegeneem,” sê De Clercq. “Dit beteken dat die stelsels wat die publiek en maatskappye in werking gestel het, steeds ’n positiewe impak het.”
Indien dit blyk of die dringendheid van die waterkrisis verslap het, stel De Clercq inwoners gerus dat die departemente wat met hierdie kwessie werk nie afgesien het van die langtermyn watervoorsieningsplanne nie.
“Die afgelope winterreën het vir ons ’n blaaskans gegee […] Hulle [die departemente] se mandaat is steeds om hierdie planne uit te voer, want dit gaan nie net oor die droogte nie, maar ook oor die volhoubare voorsiening aan die groeiende Wes-Kaapse bevolking,” verduidelik hy.
Cobus Olivier, verbonde aan die Suid-Afrikaanse weerdiens, sê dat daar vir die suid-westelike dele van die land ’n “bo-normale reënval verwag” word vir die vroeë wintermaande, wat strek van Mei tot Julie. Normale reënval vir dié gebied tydens dié tydperk is sowat 300 tot 400 mm.
Grobbelaar verduidelik dat alhoewel daar uitgesien kan word na goeie winterreën wat voorspel word, is dit op dié stadium net ’n voorspelling en dat “niemand met sekerheid kan sê wat die winter vir ons gaan inhou nie”. Die munisipaliteit moedig dus steeds inwoners en besighede aan om water spaarsamig te gebruik.
*Die damvlakke in hierdie artikel is op 16 Mei 2019 laas bygewerk.