Twee BA Taal en Kultuur studente van die Unversiteit Stellenbosch loods binnekort hul eie tydskrif. Willow Ruby van der Berg (21) en Maria Stallmann (21) is die baasbreine agter Blindeye wat op 20 September geloods word.
Die tydskrif sal by die loodsgeleentheid verkoop word. Daar word ook beoog om dit later by boekwinkels te verkoop.
Daar gaan 60 kopieë gedruk word met drie verskillende voorblaaie. Die idee is dat mense die voorblad kan kies wat hulle van hou en dan die tydskrif koop. “Mense sal by verskillende voorblaaie aanklank vind,” het Stallmann verduidelik.
Die koste van elke tydskrif is nog nie bekend nie.
Die naam Blindeye kom van die uitdrukking to turn a blind eye. Alhoewel hulle baie fokus op kuns, is daar ook artikels wat gaan oor onderwerpe wat mense partykeer van af wegskrum.
“Geestesgesondheid, feminisme, omgewingskwessies, die LBGTQ gemeenskap en seksualiteit is van dié onderwerpe,” het Stallmann gesê. Hulle wil hê dat mense die artikels moet lees en op ander maniere na bogenoemde temas kyk. “Ons het [Blindeye] een woord gemaak, want dis lekker kort en kragtig. Ons wou ook bietjie speel met die idee van wakkerword, oë oopmaak vir die wêreld.”
Van der Berg en Stallmann is albei betrokke by die inhoud en besluit oor watter temas in die tydskrif gaan wees. Albei skryf artikels, maar Stallmann fokus ook op die visuele elemente soos fotografie en Instagram. Van der Berg doen die uitleg van die tydskrif.
“Ons het baie dieselfde styl en dan bring ons dit saam, veral gedurende die uitleg proses,” het Van der Berg vertel. “Ons kyk definitief daarna om ons span groter te maak en uit te brei, maar ons fondse is nie op hierdie stadium daar wat ons ander mense kan ondersteun nie. Ons is nog nie gevestig nie.”
Nina Fouché (22) wat tans haar honneurs in English Studies doen, is een van die buitepersone wat hulle help. Sy het wel nie vir die eerste uitgawe geskryf nie, maar gaan vir die someruitgawe, wat volgende is. “Hierdie eerste uitgawe gaan oor geestesgesondheid en die volgende oor liggaambewustheid,” het Fouché gesê. “Ek gaan ’n resensie skryf oor gewilde fiksies, soos televisie reekse en ander media.”
“Ek dink hulle idee vir die tydskrif is baie slim en baie nodig,” het Fouché gesê. “Ek het gewerk by Die Matie wat die kampuskoerant is, so ek kan sê dat ek nie dink dat hulle genoeg mense se opinies voorstel of praat oor issues nie. Om ’n onafhanklike nuusbron soos Blindeye op kampus te hê sal effektief wees om daardie issues te kommunikeer wat nie deur ’n koerant gekommunikeer kan word nie.”
Op hierdie stadium gaan die tydskrif net in drukformaat wees, maar daar is planne vir ’n webwerf op ’n latere stadium.
“Ons wil net eers die print vestig en dan van daar af die aanlyn inhoud doen. Ons gaan definitief iemand benader om ons te help daarmee,” het Van der Berg bygevoeg.
Die tydskrif gaan op omgewingsvriendelike papier gedruk word. “Daar is ’n verskaffer in Kaapstad wat net omgewingsvriendelike papier het. Van die papier word uit bier etikette gemaak. Alles of ten minste ’n klein gedeelte van die papier is herwin en alles is herwinbaar. Omdat ons sê dat ons bewus is, moet ons ook wys dat ons is,” het Stallmann verduidelik.
Die drukkers is ook omgewingsbewus en die ink wat gebruik word is ook omgewingsvriendelik. “Die mense wat ons gebruik is baie bewus van die saak,” het Van der Berg bygevoeg.
Minimalisme, negatiewe spasie en ’n baie skoon estetika is wat die dames in gedagte het. “Vogue is beslis een van ons grootste inspirasies,” het Stallmann gelag. “Die rykdom van kreatiwiteit en talent van mense in hierdie area is so baie en beslis ’n groot inspirasie. Ons sal graag die plaaslike mense se ongelooflike talente wil wys.”
Hulle wil mense aanmoedig om kreatief en vreesloos te wees. “Ons is besige studente wat ons eie tydskrif loods en ons wil vir mense wys dat dit moontlik is,” het Van der Berg bygevoeg. Hulle wil ’n produk maak wat “hopelik iets [sal wees] wat plaaslike mense motiveer om mekaar en mekaar se werke te ondersteun.”
“Ons het baie mense wat niks van ons verwag nie, maar wat bereid is om soveel vir ons te gee,” het Van der Berg gesê. “Dis ongelooflik.”
“Ek is baie opgewonde om te kyk waarnatoe hierdie projek gaan,” het Fouché gesê.
Die meeste artikels sal in Engels wees, maar daar is gedigte wat in Afrikaans gepubliseer gaan word. Die groep mik om op latere stadiums Xhosa en Franse werke ook te publiseer, asook die Engelse vertalings.
Die tydskrif sal kwartaalliks verskyn, dus met elke seisoen. Gaan volg gerus vir hulle op Instagram by @blindeyemagazine om al die aksie te volg.