Windpomp slaan steeds die kitaar

Wynand Burger was destyds besig om op sy musiekloopbaan te fokus toe sy pa se gesondheid ’n terugslag gehad het. Wynand het besluit om terug te keer na sy tuisdorp, Brandvlei in die Noord-Kaap, om bystand te verleen. Dit het aan sy loopbaan ’n onverwagse hupstoot verleen: Die verhoognaam Wynand Windpomp is gebore. SMF News se Jan-Hendrik de Villiers het met hom gesels oor sy loopbaan in die klipharde Afrikaanse musiekbedryf.

Wynand Windpomp het altyd “’n goeie interaksie met die crowd”, sê Anél Kleinhans, proelokaal inskakel-beampte van Windmeul Kelder, waar hy soms optree. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Waar kom ’n mens aan ’n naam soos Windpomp? Dis ’n vraag wat Wynand Burger gereeld hoor. Die musikant gebruik dekades reeds die verhoognaam Wynand Windpomp.

“Almal dink dit is soos Johannes Kerkorrel, of Koos Kombuis,” sê Wynand. “Ek weet nou nog nie waar húlle name vandaan kom nie.”

Destyds was dit “nog ‘cool’ om so ’n ander naam te hê”, sê Wynand. 

Sy verhoognaam kom uit die hart van die Boesmanland-streek in die Noord-Kaap: Brandvlei.

“Ek is daar gebore en ons plase is daar,” sê Wynand. Na skool, het Wynand vanaf 1990 tot 1992 BCom Bestuursrekeningkunde op Stellenbosch gaan studeer, maar later opgeskop om op sy musiekloopbaan te fokus. Toe sy pa ’n hartaanval kry, het hy besluit om terug te keer Brandvlei toe en daar te gaan help.

Burger se broer, Eduart Burger, het in 1996 ’n restaurant op Brandvlei begin. Wynand was uit die staanspoor by die restaurant betrokke, en die twee broers het saam op ’n naam vir die restaurant probeer kom. Toe dink hulle aan ’n windpomp.

“’n Windpomp is ’n ding wat lewe gee aan ’n plek waar daar nie veronderstel is om lewe te wees nie,” sê Burger. “En toe noem ons die restaurant ‘Die Windpomp’.”

Hy het vinnig onder kliënte begin bekendstaan as ‘Windpomp’.

Boonop het ’n ander Wynand – die Afrikaanse musikant, Wynand Strydom – rofweg dieselfde tyd óók ’n CD uitgereik het.  Wynand Burger was bang dat dit verwarring sou veroorsaak.

Hy besluit toe op die naam “Wynand Windpomp”. Sy besluit was nie sonder sukses nie. Hy het die restaurant in 2009 verkoop, maar die naam Wynand Windpomp het gebly.“Dit stick by mense,” sê Burger. “Baie mense noem my nie eers Wynand nie; meeste mense noem my Windpomp.”

Wynand “Windpomp” Burger se debuut CD, Te Ladida, is in 2004 vrygestel. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

’n Oor vir musiek

Wynand speel eintlik kitaar, maar sy belangstelling in musiek het begin toe hy klein was en sy ouma die orrel gespeel het. Sy suster, Mariaan Cilliers, het weer klavierlesse geneem.

Wanneer Mariaan haar “toonlere op die klavier geoefen het”, sou Wynand langs die kant van die klavier gaan staan en note druk op die klavier.

Wynand het later self ook musieklesse neem, maar dit was nie vir hom lekker nie.

“Op skool, het hy so klein bietjie musieklesse gehad, maar hy het later vir my ma gesê hy haat dit,” onthou Mariaan.

Wynand het musiek op ’n ander wyse benader, sê sy. Hy het ’n oor gehad vir musiek. Hy sou voor ’n klavier gaan sit, ’n bietjie rondspeel, “en as ons weer hoor, dan speel hy ’n liedjie”, sê Mariaan. “Dan’t hy dit uitgewerk.”

Mariaan meen Wynand “sien altyd ’n goue randjie as daar ’n donker wolk is”. 

“Dis vir my iets kenmerkend van hom.”

‘’n Mengsel van elektronies en rock pop’

“My musiek is ’n mengsel van elektronies en rock pop,” sê Wynand. “Ek weet nie eintlik hoe om [dit] te beskryf nie, want ek volg nie eintlik ’n genre route nie.”

Wynand het deur die jare in verskeie bands gespeel, insluitend Another 48 Hours; Sequence; en No Strings Attached.

Another 48 Hours het drie lede gehad, maar tydens 1995 -1996 was Sequence ’n volledige musiekgroep, sê Wynand. Toe die destydse sanger dié groep verlaat, moes Wynand skielik die rol van sanger oorneem – dit het sy sangloopbaan behoorlik op dreef gekry.

Hy en Manie Mongia, die kitaarspeler van Sequence, het juis in die groep ontmoet, en maak steeds saam musiek. “Ek en [Manie] speel so lank saam, ons oefen nie eers meer nie,” sê Wynand. “As ons ’n nuwe song doen, dan sal ek dit vir hom stuur. Hy oefen dit by die huis, ek oefen dit, dan kom ons by die venue bymekaar. Dan speel ons dit.”

Wynand “Windpomp” Burger (regs) met Manie Mongia (links), ’n mede-musikant, tydens ’n optrede by die Windmeul Kelder markdag vroeër vanjaar. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

Wynand “Windpomp” Burger en Manie Mongia maak jare lank reeds saam musiek. Volgens Wynand is hulle so vertroud met mekaar se musiek, dat hulle nie eers meer saam hoef te oefen. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

‘Musiek is ’n besigheid’

Die kommersiële sy van die musiekbedryf bly ook ’n uitdaging.

“Radiostasies speel nie diep goed nie,” sê Wynand. “Radiostasies speel liedjies wat mense die maklikste sal onthou.”

Wanneer ’n musikant styl nie ooreenstem met wat radiostasies wil speel nie, het dit kommersiële implikasies, sê hy.

“Musiek sien ek as ’n besigheid: Dit gaan oor vraag en aanbod,” sê Wynand. Hy verduidelik dat ’n mens moet seker maak dat dit wat jy aanbied ’n bepaalde vraag aanspreek, en tot verdere vraag daarvoor sal lei.

Wynand se liedjie ‘Eva’ het wel radio-sukses behaal toe dit in 2014 Bok Radio se  Wes-Kaapse Bokkie toekenning vir liedjie van die jaar gewen het. Hy het met die Kaapse rymkletser QRock saamgewerk om die liedjie te skep.

“Ek het nie eers gedink ek staan ’n kans [om te wen nie],” sê Wynand. “Ek was op teen groot ouens, soos Steve [Hofmeyer], Kurt [Darren] en Theuns Jordaan-hulle.”

Dit was vir hom, as onafhanklike musikant, ’n loopbaanhoogtepunt. Hy verduidelik dat dit moeilik is vir sangers om hul merk in die bedryf te maak as hulle dit doen sonder die hulp van ’n platemaatskappy.

“Ek sal nooit ophou musiek maak nie,” sê Wynand. Hy is tans besig om aan ’n nuwe liedjie “of twee” te werk.

Hy sal egter nie weer ’n CD uitbring nie, weens die hoë kostes verbonde daaraan, en sê dat digitale platforms die toekoms van musiekverspreiding is.

Wynand het lojale aanhangers wat hom en sy musiek ondersteun. Anél Kleinhans, proelokaal skakelbeampte van Windmeul Kelder, vertel dat hy soms by Windmeul Kelder se markdag optree, en altyd goeie interaksie met die gehoor het.

“’n Windpomp is ’n ding wat lewe gee aan ’n plek waar daar nie veronderstel is om lewe te wees nie.”

Verhoogvrees

As veteraanmusikant is Wynand nie immuun teen iets wat baie musikante al ervaar het nie: verhoogvrees.

“Ek het elke keer stage fright. Nóú nog, na al die jare,” sê Burger. “As daar min mense by ’n gig is, dan het jy meer stage fright, want dan weet jy nie hoe om die mense op te som nie.”

Wynand meen verhoogvrees is eintlik ’n goeie ding, want dit beteken dat ’n mens nooit te gemaklik raak nie.

“Dis soos ’n motorfiets: Die oomblik as jy jou vrees verloor vir ’n motorfiets… dis wanneer hy jou afgooi,” sê Wynand. “Musiek is presies dieselfde. Jy moet respek hê vir [musiek]… respek hê vir jou crowds… want hy gaan vir jou afgooi.”

Die vrees wyk egter gou, sê hy. Binne vyf sekondes voel hy weer in beheer. “Dit moet net begin. Dit moet net gebeur.”

Wynand “Windpomp” Burger besig om sy Ibanez elektriese kitaar te stem. Aangesien dit ’n elektriese kitaar is, moet ’n mens dit naby die oor stem om te hoor of die klank korrek is, sê hy. FOTO: Jan-Hendrik de Villiers

, , , ,