Woordfees 2019: Oud-Matie pak bekroonde roman en Afrikaner-kultuur aan

Die een-vrou-produksie se ster is Daneel van der Walt. FOTO: Wianda Gilliland

Die een-vrou-produksie se ster is Daneel van der Walt. FOTO: Wianda Gilliland

Vergete gesprekke oor Afrikaner-kultuur word oopgekrap deur die ikoniese Afrikaanse roman Ons is nie almal so nie wat dié jaar op die Woordfeesverhoog te sien is.

Die vrou agter die konsep én die skerms van die boeiende een-vrou-produksie is oud-Matie Mercy Kannemeyer (25). Kannemeyer het die teks verwerk en is ook die regisseur.

Kannemeyer het die roman vir die eerste keer in 2010 as graad nege-leerder gelees, en toe weer in haar eerste jaar as voorgeskrewe roman vir Afrikaans en Nederlands.

Mercy Kannemeyer maak golwe die jaar as jong en opkomende teatermaker. FOTO: Facebook.

Mercy Kannemeyer maak golwe die jaar as jong en opkomende teatermaker. FOTO: Facebook.

Die hoofrol en verteller van die stuk word vertolk deur Daneel van der Walt as jong Gertie wat in moeilike omstandighede grootword gedurende 1950’s.

“Dis ’n boek wat so in my agterkop vasgesteek het. Ek het gou besef ek wou regtig graag iéts met die teks doen,” het Kannemeyer gesê.

Die teks handel oor ’n arm Afrikaner-gesin: Doris en Piet van Greunen woon op Parow met hul dogtertjie, Gertie. Verskeie alledaagse struikelblokke kom oor die gesin se pad en hulle verskillende menings oor die lewe word sistematies uitgelig. Apartheid, geloof, vriendskap en die huwelik is prominente temas waarmee die karakters moet worstel.

“Mens het ongelooflike deernis vir die mense in die boek,” het Kannemeyer gesê. “Dit beeld die menslikheid van verkeerde besluite en die menslikheid van indoktrinasie so goed uit.”

Daneel van der Walt in haar Gertie-kostuum, maar wat ook die stem van haar roker-ma, Doris, uitbeeld. FOTO: Wianda Gilliland

Daneel van der Walt in haar Gertie-kostuum, maar wat ook die stem van haar roker-ma, Doris, uitbeeld. FOTO: Wianda Gilliland

Volgens Van der Walt, wat ongemoeid die verskeie stemme vertolk het, bo en behalwe die rol van Gertie, is die stuk belangrik om mense bewus te maak van die moeilike gesprekke wat vir jare nou al vermy word.

“Afrikaner-mense het nog nie die gesprek gehad oor hulle blindelingse volging van apartheid en die kerk nie,” meen sy.

“Die grootste uitdaging was die oorkoepelende subject matter van die stuk. Om te kan erken dis wie ons was, en hoe ons tot ’n mate steeds is. Ons weet steeds nie hoe om met mekaar daaroor te praat nie, omdat daar nooit eerlike gesprekke plaasgevind het nie.”

Van der Walt het gesê die rol van Gertie was ook ’n uitdaging. “Ek wou Gertie eerlik as ’n kind speel wat moet grootword tussen volwassenes. Ek wou haar nie cute maak nie; haar omstandighede is en was ’n realiteit.”

Kannemeyer het geweet sy wou met Van der Walt werk nadat sy haar in ’n ander produksie gesien het.

“Toe ek Daneel op die verhoog beleef het wou ek bitter graag met haar werk. Só het ek in Junie 2018 aan die teks begin werk. Daneel het baie insette gehad, en ons het so te sê eers verlede week die teks gefinaliseer!” vertel sy.

Toe Kannemeyer met Jeanne Goosen, skrywer van Ons is nie almal so nie, oor haar idee gaan gesels het, was sy erg op haar senuwees.

“Ek het gebewe en kon amper nie ’n woord uitkry nie. Maar Jeanne het net so gesit met ’n sigaret in haar hand en sê toe: ‘Gaaf… Ek is gevlei.’”

Kannemeyer het gesê dat die verskillende kontekste en hoe om dit vir die verhoog aan te pas ’n uitdaging was.

“Die storie speel af in die fifties, die boek was geskryf in die nineties en ek moes die teks skryf en toeganklik maak vir 2019.”

Volgens Kannemeyer is Goosen se stem baie sterk deurgaans die hele roman, en sy het volle vertroue in Van der Walt gehad om dié stem suksesvol uit te beeld.

‘Ons is nie almal so nie’ is te sien op 6 Maart 20:30, 9 Maart 20:30 en 10 Maart 16:00 by Hoërskool Luckhoff.

 

, ,