Vuisvoos, maar nog regop (Herlaai) is Marianne Thamm se ode aan Suid-Afrika se vreemder-as-fiksie politieke landskap. Dit is prontuit vreksnaaks. Thamm, ’n ondersoekende joernalis, wend haar tot die verhoog om haar frustrasie met – en hoop vir – Suid-Afrika uit te druk.
Gesoute ondersoekende joernalis, Marianne Thamm, se standup opvoering Vuisvoos, maar nog regop, vertel die vreemder-as-fiksie storie van Suid-Afrikaanse politiek sonder om enigiets terug te hou. Vuisvoos was op 1 Oktober op die Woordfees-planke by die Eendrag Teater. FOTO: Aurelia Mouton
Sy het die gehoor op ’n tuimeltreinrit geneem deur die laaste 15 jaar van Suid-Afrika se politieke geskiedenis. So half jittery en effe haastig, verwag sy dat die gehoor by bly, want hierdie tragi-komedie is vir die mense wat gereeld nuus lees. Haar ervaring en eksklusiewe toegang tot politici bring kleur na nuusgebeure van die laaste paar jaar.
Haar staaltjies oor die voormalige DA-leier, Helen Zille, was buitensporig snaaks en ’n deurlopende tema in die opvoering. ’n Hoogtepunt van die aand was toe Thamm vertel hoe ’n “muis” homself in Zille se bell bottom denim bevind het. Terwyl Zille tydens ʼn landswye toer op ʼn vullishoop gestaan het om die ANC se swak dienslewering te beklemtoon, het dié muis kwansuis by haar broekspyp opgekruip. Thamm klink terselfdertyd beïndruk en minagtend wanneer sy praat oor Zille.
Hier en daar waar ’n grappie nie heeltemal geland het nie, het sy dit grasieus afgelag en aanbeweeg, maar daar was min sulke oomblikke. Die gehoor was min stil toe Thamm vertel het van haar teorie dat laasjaar se ontploffing op Lilian Ngoyi-straat in Johannesburg ’n sameswering was tussen inwoners wat poepe opgegaar het.
Kras en kwaad vertel Vuisvoos die storie van staatskaping sonder om asem te skep of ’n punchline te mis. Vuisvoos woed teen die Zuma-regering, die Guptas, Markus Jooste, en sommer enigiemand wat Suid-Afrikaners probeer inloop. Die gehoor het gekraai toe Thamm tong-in-die-kies vertel dat voormalige VBS-baas Tshifhiwa Matodzi “gesing het soos ’n hadida op tik” voor die Pretoria hooggeregshof.
Haar grappies kom met ’n waarskuwing aan politieke kapers en fiscus rowers: Thamm en haar kollegas is op hul spoor. Marianne Thamm sê wat sy wil, hoe sy wil en hou niks terug nie. As landsburger eerste en joernalis tweede, slaan sy terug en haar houe mis nie. Want Marianne Thamm is ‘vuisvoos, maar nog regop’.