Temas van isolasie, herhaling, vasgevangenheid en die eenvoud van alledaagse roetines word in drie kortkortfilms aangespreek wat op vanjaar se Toyota US Woordfees gewys het.
Immerveranderend
Immerveranderend, die kortste van die drie kortfilms, handel oor om in die voorstede vasgevang te wees. Die sewe-minuut lange film volg twee karakters wat in ’n kar rondry en aanhoudend verdwaal.
Die beknopte spasie van die motor en die nabyskote dra by tot die gevoel van vasgevangenheid. Die herhalende storielyn en teks dra ook so.
Heleen van Tonder, die regisseur, kinematograaf en redigeerder, het haarself goed van haar taak gekwyt, veral wat die klank betref. En aangesien dit net sewe minute was, voel dit nie heeltemal na ’n vermorsing van tyd nie.
museum of fleeting wonders
Plakkaat vir die kortfilm, museum of fleeting wonders, deur Tomas Gomez Bustillo. FOTO: Verskaf/Woordfees
museum of fleeting wonders is ’n 13-minuut lange eksperimentele kortfilm wat dadelik ’n mens se aandag gryp met die 1:1 film-ratio. Dié vierkantige formaat is veronderstel om die gehoor in te trek en vasgevang te hou – maar dit het nie eintlik nie.
Die kortfilm bestaan uit vyf kort stories oor alledaagse oomblikke: om vullis uit te gooi, inkopies te doen, ’n busrit te neem, wasgoed op te hang en (die minder daaglikse) om te kyk hoe ’n voël in die venster vasvlieg. Als dinge wat ʼn mens alleen doen, of alleen kan observeer.
Daar is skoonheid in eenvoud, maar die doel van die kortfilm is vir my verlore. Die tema is nie duidelik sigbaar nie, en ’n mens kan maar net wonder wat Tomas Gomez Bustillo, die regisseur, se uiteindelike plan met die film was.
Tog bly die film eg tot sy naam – dis fleeting oomblikke, en iets wat ’n mens beslis sal vergeet.
The Last Post Office
Plakkaat vir die kortfilm, The Last Post Office, deur Augn Rakhine. FOTO: Verskaf/Woordfees
The Last Post Office beeld subtiel temas rakende LGBTQIA+ en die isolasie wat dit kan bring in ’n homofobiese land uit. Die 17-minuut lange kortfilm wat vir die Durbanse Internasionale Filmfees in 2019 gekeur was, speel in Bangladesj af, met twee mans wat saam by die laaste poskantoor in daardie area werk. Dis afgeleë, omring met water, en die enigste manier om daar uit te kom is met ’n boot.
Die mans lyk verveeld terwyl hulle hul daaglikse roetines doen. Hulle kan slegs met mekaar konnekteer tydens die aand of onder die water waar hulle seker is dat niemand hul liefde vir mekaar kan sien nie.
Donderweer verander die toon van die teks teen die einde van die film en daar daag ’n man op wat die eerste woorde in die film spreek. Hy vra of hulle ’n speletjie wil speel – een met nadelige nagevolge.
Die regisseur Aung Rakhine het sy werk goed gedoen – die kortfilm is mooi om te aanskou. Die verskillende skote wat gebruik word het die storie visueel vertel en dus was teks nie ’n belangrike faktor nie. Dit was roerend en die stilte namate die film het die gehoor die geleentheid gegee om te reflekteer.