Woordfees: Jazz en klassieke klavier ontmoet op verhoog

Klassieke musiek: Charl du Plessis-trio: Rhapsody in blue

1 Oktober 19:00

Endlersaal

George Gershwin se Rhapsody in blue is ʼn honderd jaar gelede vir die eerste keer opgevoer. Om dít te vier, het die pianis Charl du Plessis ʼn konsert saamgestel met sy eie interpretasie van hierdie stuk, sowel as ’n paar ander Gershwin-gunstelinge.

Dié trio, onder wie Du Plessis (klavier), Werner Spies (elektriese kontrabas) en Peter Auret (tromme), het noukeurig en met passie Gershwin se stukke opgevoer.

Dit is die eerste keer wat hierdie interpretasie van George Gershwin se Rhapsody in Blue by die Woordfees opgetree word, het Charl du Plessis, samesteller van die vertoning se musiek, gesê. FOTO: Verskaf/Woordfees

Twee wêrelde kom saam

Pianiste vermy dikwels jazzmusiek en verkies klassieke stukke, het Du Plessis gesê. In hierdie vertoning het die wêrelde van jazz en klassieke musiek egter netjies bymekaargekom. Dit het gevoel asof die instrumente met mekaar in gesprek tree.

Van die stukke wat Du Plessis se trio opgevoer het, is eintlik gekomponeer vir orkes. Die trio se sukses met die verwerkings daarvan is beslis noemenswaardig. 

Die laaste item van die konsert was Du Plessis se interpretasie van Rhapsody in blue, wat 12 minute geduur het. Hy het die stuk beskryf as ’n laslappiekombers omdat daar verskillende dele binne die stuk is wat op die oog af onsamehangend is. 

Dié stuk was goed uitgevoer en dit het nie eens soos 12 minute gevoel het nie. Ek wou net nog hoor. Teen die einde van hierdie stuk het die gehoor die trio bedank met ʼn staande applous.

Nie een van die instrumente was oorbodig nie, en wat die klank betref, was daar in elke stuk goeie balans tussen die drie instrumente. 

Dit is uitdagend om dromme met beheerdheid en balans te speel in ’n saal met goeie akoestiek soos die Konservatorium se Endlersaal, het Charl du Plessis, samesteller van die vertoning se musiek, gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld

Goeie spel en geselsies

Naas die goeie musiek, was Du Plessis se skerp sin vir humor die kersie op die koek. Sy geselsies met die gehoor tussen die vertoning se items het die konsert mooi bymekaar gebring. Dit was duidelik dat daar moeite gedoen was om die gehoor te betrek en hulle aandag te behou. 

Al drie musikante het hard gekonsentreer om elke noot reg te speel, maar dit was duidelik op hulle gesigte dat hulle die vertoning net so baie soos die gehoor geniet het. Dit was lekker om te sien hoe hulle passie vir musiekmaak steeds deur die konsentrasie-fronse uitstraal.

Charl du Plessis-trio het bekende stukke soos “The man I love”, “I loves you, Porgy” en “Autumn leaves” gespeel saam met die vertoning se hoofsegment Rhapsody in Blue. FOTO: Verskaf/Woordfees

,