Die woorde “Vir oopkoppe, nie vir sensitiewe siele nie,” pronk vanjaar op bladsy twee van die US Woordfees se feesgids. Hierdie nuwe toevoeging by die “sleutel tot simbole” haal die vraag egter by feesgangers en kunstenaars op oor wat die doel van so ’n kategorie is.
Danie Marais, wat in beheer van die Woordfees se publisiteit en die filmfees is, meen dat onder ’n diverse gehoor, soos wat by die Woordfees aangetref word, daar sekere “sensitiwiteite” onderling kan bestaan.
“Hoewel ons glad nie in sensuur glo nie, wil ons mense net inlig,” het Marais verduidelik. “Dit is waarom daar ouderdomsbeperkings is en ‘oopkop’ was eintlik maar net so ’n spesiale ‘hallo, hier is dalk goed wat jou gaan ontstel as jy sensitief vir taal of sekere temas is’.”
Deon Maas, skrywer van Witboy in Berlyn, met wie Marais Donderdag in ’n boekbespreking betrokke was, was volgens Marais aanvanklik die enigste kunstenaar wat ’n probleem met hierdie kategorisering gehad het. Maas woon vir die afgelope paar jaar in Neukölln, Duitsland.
Gedurende die boekbespreking was Marais se eerste vraag aan Maas oor hierdie kategorisering. Marais het begin deur te sê dat Maas aanvanlik ’n probleem met hierdie kategorisering van die boekbespreking gehad het. Hy het Maas toe gevra wat hy daaroor te sê het.
“Ek het eintlik ’n groot probleem daarmee, want daar is hierdie natuurlike aanname dat omdat my naam Deon Maas is, dat ek gaan moeilikheid maak van een of ander aard en ek het nog nooit die moeilikheidmaak-tag aan myself gehang nie,” het Maas geantwoord.
Maas het die “probleem” uiteindelik gedurende die gesprek as ’n kommunikasiegaping afgemaak, waarvan die skuldige nie aangewys kan word nie.
In ’n onderhoud na afloop van hierdie gesprek het Maas verduidelik dat sy generasie vir iets soos die oopkop-kategorie moes baklei. Die “vanselfsprekendheid” van dié kategorie beskou hy as ’n vryheid wat jonger geslagte het, wat hy nie self gehad het nie.
“Ek het geen idee waarom daar sensuur op my toegepas word deur die organiseerders van die Woordfees nie,” het Maas gesê. Hy vermoed egter dat sy reputasie iets te doen gehad het met die besluit om die bespreking van sy boek onder die “oopkop” kategorie te plaas.
“Dit is nie iets wat my verskriklik pla nie, want om eerlik te wees gaan dit mense eerder aanmoedig om te kom as wat dit hulle gaan afmoedig [sic],” het Maas gesê.
Maas verduidelik verder dat dit ’n vlugtige hiccup vir hom was en dat hy heeltemal daarvan vergeet het, alhoewel hy aanvanklik “omgekrap” was daaroor, veral omdat sy boek nie inhoud bevat wat “mense kan ontstel nie”.
Bibi Slippers, een van die kunstenaars betrokke by 20/20 – met ’n Kelkie (waaraan die oopkop-kategorie ook geheg word), meen dat dié kategorie baie nuttig vir feesgangers is. Sy voer aan dat dit mense kan help om ingeligte besluite oor produksies te neem.
Slippers meen dat sy en die digter Loftus Marais hierdie spesifieke produksie vir die tweede jaar bymekaarsit juis om “iets te skep wat ’n bietjie meer uitdagend en oproerig” is.
Du Toit Albertze, die skrywer van Klip Kween, meen dat vanjaar se Woordfees-tema, “Jonk”, hierdie oopkop-kategorie noodsaak.
“Meeste van die gehoorlede by Woordfees is nie jonk nie, so hulle moet op ’n manier wysgemaak word,” het Albertze gesê. “[So ’n vrywaring] verhoed konflik in produksies. Dit is ’n wonderlike manier om verdraagsaamheid te kweek en konflik te vermy.”
Albertze meen egter wel dat hierdie kategorisering minder kykers vir sy produksie mag beteken. “Op die ou einde lyk dit amper soos gevaartekens ook. So ek dink dit beteken nogal mense sien ‘o, oopkop – die liberale soort, ek sien nie kans hiervoor nie’,” het Albertze gesê.
In reaksie op ongelukkigheid oor die gebruik van die oopkop-kategorie, het Danie die volgende te sê gehad: “ ’n Fees gaan nie almal tevrede stel nie. Dit is met die beste van bedoelings gedoen. Ek is jammer, mens kan oor enige ding gesels. Net soos wat feesgangers vry is om hulle kommentaar te gee, staan dit kunstenaars vry om te sê hulle hou nie daarvan nie,” het Danie gesê.
Danie is onseker of hierdie kategorie ’n permanente instelling by die Woordfees sal word. “Mens probeer elke jaar maar iets nuut. Ek hoop dit was vir mense sinvol. As ons meer negatiewe terugvoer daaroor kry, gaan ons dit uiteraard heroorweeg. Op die ou end luister ons na feesgangers,” het Danie verduidelik.