Hoe bekend is jy met die anti-apartheidsaktivis Allan Aubrey Boesak? Die eenmanstuk Boesak vertel die verhaal en lewensreis van dié kerklike en omstrede anti-apartheidsfiguur Allan Boesak van die 1980’s, met ’n vertolking deur Marlo Minnaar.
Boesak was te siene by Hoërskool Stellenbosch as deel van de 2023 Toyota US Woordfees.
Die ikoniese Boesak
Die gehoor word gegroet met die gospel-lied “Ek het ’n lekker smakie”, wat dadelik die toon en konteks van die toneelstuk vir die gehoor skep.
Met dit het sommiges in die gehoor selfs aan die sing geraak. Die gehoor ontmoet dan Boesak as kerkman wat ’n lesing in die kerk lewer. Verder maak Mercy Kannemeyer, die skrywer en regisseur, deurgaans gebruik van aktivistiese musiek wat die gehoor ook bemagtig in so ’n wyse dat hulle op die punt van hulle stoele sit.
Marlo Minnaar vertolk die rol van die anti-apartheidsaktivis Allan Aubrey Boesak in die eenmanstuk Boesak wat by die 2023 Toyota US Woordfees te siene was. FOTO: Nardus Engelbrecht
Regdeur die toneel vertel Boesak van sy reis tot apartheidsaktivis sowel as die omstredenheid agter sy inhegtenisneming – ’n belangrike storie in die Suid-Afrikaanse konteks.
Minnaar slaag daarin om die ikoniese Boesak se storie effektief oor te vertel. Sy puik vertoning het mens laat voel asof hulle na die ware Allan Boesak se storie luister.
Geloof staan sentraal in toneelstuk
In die toneelstuk, wat 55 minute lank is, kom die sterk toon van geloof en godsdiens na vore. Kannemeyer, ook verantwoordelik vir die ontwerp van die stel en beligting, het die geloofsaspekte duidelik na vore gebring, sonder om die Christelike geloof aan die gehoor af te smeer.
Die gebruik van kerkbanke en een stoel was genoeg om die tema in ’n effektiewe manier na vore te bring.
Die kostuums word ook gebruik om Boesak as kerkman en aktivis uit te beeld. Hy het tydens die toneelstuk as kerkman, ’n toga aangehad en ander kere ’n pak gedra.
Kannemeyer het haar goed van haar taak gekwyt om deur die beligting te wys wanneer Boesak deur ’n donker stryd gaan – deur die ligte te verdof – en ook om te wys dat ’n nuwe dag of tydstip aangebreek het.
’n Kragtige oomblik in die toneel was toe die gehoor gegroet was met ’n klankgreep van ’n persoon wat die hof tydens Boesak se verhoor toespreek. Op so ’n manier neem die toneelstuk die gehoor terug na daardie tydstip en hulle ervaar die oomblik asof dit tans gebeur.
As ’n geskiedenisles in so ’n wyse aan Suid-Afrikaners verduidelik moet word, sal almal met vlieënde vaandels slaag.
Die geskiedenis van die anti-apartheidsaktivis en kerkman Allan Aubrey Boesak word in die toneelstuk Boesak ten toon gestel. FOTO: Nardus Engelbrecht