Woordfees: Tragedie duur voort in Gas

Teater: Gas

28 September om 19:00, 29 September om 16:30, 30 September om 13:00

Bloemhof skoolsaal

Gas, ’n toneelstuk onder die regie van Dean Balie, beeld die leefwêrelde van die mense wat buite die Standaardafrikaans kategorie val en selde dieselfde aandag geniet. Dit is lekker om Afrikaanse stories te sien wat nie in Standaardafrikaans of Kaaps is nie.

Jill Levenberg en Elton Landrew speel ’n vervreemde suster en broer van Alexanderbaai in die Richtersveld. FOTO: Verskaf/Woordfees

Gas beeld die storie van Namas in Alexanderbaai uit. Dit wys hoe die gevolge van nalatige grondhervorming, ’n stryd teen onwettige myners, die erfenis van vissers en die regering se oënskynlike aanslag op die natuurlike hulpbronne, hulle bestaan vorm.

Gas omarm egter baie temas sonder om enigeen van hulle behoorlik aan te spreek. Die tema wat wel die meeste uitgestaan het is die van verlies. In die toneelstuk verloor die karakters stelselmatig alles.

Verskuilde agenda

Die vertoning bestaan uit twee karakters, Maria en David, wat deur Elton Landrew en Jill Levenberg vertolk word. Maria en David is broer en suster wat al vir lank vervreemd is. Dawid daag uit die bloute op in die Richtersveldse kusdorpie met ’n verskuilde agenda. Hy maak homself tuis by sy kluisenaar-suster wat steeds in hulle grootwordhuis woon.

Maria bring haar dae deur met haar radio en die koerant. Sy is nie opsoek na ander geselskap nie.

Elton Landrew as die karakter Dawid. Dawid keer met ’n versteekte agenda terug na sy ouerhuis om die vissersgemeenskap te oorreed om in te stem tot ’n uitbuitende regeringsinisiatief. FOTO: Verskaf/Woordfees

Verraad en… versoening?

Maria se broer, Dawid, keer terug na Alexanderbaai juis om die gemeenskap van nog so ’n uitbuitende regeringskontrak te oortuig. Die primêre konflik tussen die broer en suster is egter geskoei op die maniere waarop hulle die verlies van hul ouers verwerk. Deur die toneelstuk is dit duidelik dat albei karakters ook iets van hulself verloor het om met die verlies van hul ouers saam te leef.

Hieruit vloei daar oudio-terugflitse, die verhoog raak donker. Die tegniese elemente, wat deur Dian Harcovecchio behartig is, beeld karakters se terugflitse en hallusinasies uit. Die hallusinasies word eers duidelik as sulks herken ná die onthulling van ’n kinkel in die storie. Hierdie kinkel sluit aan by die verwerking van verlies en geestesgesondheid, maar dit is nie deeglik ontwikkel nie en voel te veel.

Die einde was onbevredigend. Die geheime wat die broer en suster van mekaar hou, word blootgelê, maar die tragedie duur egter steeds voort. Die karakters kry nie afsluiting nie.

Jill Levenberg vertolk die rol van Maria, ’n kluisenares wie se enigste geselskap die radio is. FOTO: Verskaf/Woordfees

,