Woordfees: “Tussen my oë” bied ’n dieper blik

Visuele kunste: between my i’s / tussen my oë

28 September tot Februarie 2025

Bloemhof Museum, Stellenbosch

Die visuele kunstenaar en beeldhouer, Marlene Steyn, se uitstalling between my i’s / tussen my oë is ’n heerlike speling op woorde en beelde. Die uitstalling se titel is ’n woordspel: Die “i” is die Engelse vertaling vir “ek”, maar klink ook soos “eye” – daarom kan die titel ook geïnterpreteer word as “tussen my ekke”. Boonop dui die uitstalling se titel ook op die verhouding tussen ego en sig.

Marlene Steyn, ’n visuele kunstenaar, is as hierdie jaar se Woordfees-feeskunstenaar aangewys. Haar werke kan as speels beskou word met verskeie lae van betekenis wat dieper daarin skuil. Steyn se werke is met ondersteuning van SMAC galery uitgestal. FOTO: Maliza Adendorff

Met die eerste oogopslag lyk die uitstalling byna deurmekaar. Daar is nie noodwendig deurlopende temas wat dit struktuur gee nie – skilderye word nie volgens die onderwerpe soos natuur of vroulikheid gegroepeer nie. Daar is ook nie ’n voorgeskrewe manier om deur die uitstalling te beweeg nie. Die uitstalling word eerder saamgebring deur visuele elemente soos oë, eiers, vlegsels en toue.

‘Ontwikkelende elemente’

Die werke in hierdie uitstalling kan as droomagtig en amper hipnoties beskou word. Dit is die gebruik van kleur, visuele vorms asook negatiewe spasies wat in mekaar verweef is wat hierdie droomagtige, hipnotiese gevoel skep. Baie van die elemente in Steyn se werk is ‘ontwikkelende elemente’, soos oë wat eiers word, en eiers wat iets anders word.

Die visuele kunstenaar, Marlene Steyn, se olie- of akrielskilderye is kompleks en bestaan uit baie betekenislae. In teenstelling is die keramiekwerke eenvoudig, simmetries en speels. Die uitstalling is in aparte spasies uitgestal sonder dat daar spesifieke temas aan elke area toegewy is. FOTO: Maliza Adendorff

Meervoudigheid is ’n visuele tema wat in Steyn se skilder- en keramiekwerke voorkom. Daar is baie herhaling van motiewe of kleure. Die meervoudigheid stel die verskillende rolle wat mense kan inneem voor, maar dui ook op transformasie.

Woordspel

Baie van Steyn se skilderye en beelde is simmetries, veral in haar beeldhoukuns. Daar is ’n kompleksiteit in haar skilderye aangesien dit verskeie betekenislae het. Haar skilderye is amper ’n soort palimpsest, waar elke laag ’n ander betekenis van kleur, deursigtigheid en patrone het. In teenstelling daarmee is van die beeldhouwerke heelwat eenvoudiger en speels, en daar word aansienlik minder van kleur gebruik gemaak. Tog is daar genoeg balans en die een kunsvorm oorweldig nie die ander nie.

Die woordspel en herhaling wat in die titels van Marlene Steyn se werk by haar Woordfees-uitstalling gesien kan word, is dikwels tong-in-die-kies en humoristies. Die titels nooi kykers om sin te maak van wat hulle sien. Die uitstalling is tot einde Februarie 2025 by die Bloemhof Museum in Stellenbosch te sien.
FOTO: Maliza Adendorff

Die titels van die kunswerke spreek boekdele. Haar titels is parmantig, tong-in-die-kies en help die kyker om die kunswerke te verstaan. Aan die ander kant is daar ook ’n dubbelsinnigheid daaraan wat die kyker langer laat draal om die werk te snap.

Hierdie uitstalling is lig en pret, maar daar is ook dieper betekenis wat daaragter skuil.

Die uitstalling is tot einde Februarie 2025 in die Bloemhof Museum in Stellenbosch te sien.

, ,