Die byebedryf is gereeld in die nuus, onder meer weens dalende spesiegetalle. ’n Ander volhoubaarheidskwessie staar egter die plaaslike byebedryf in die gesig: Heuningbedrog.
Dit is vir die meeste verbruikers geen verrassing om ’n rak vol heuningprodukte iewers in die winkel raak te loop nie. Dié goue vloeistof is lank reeds ’n luukse kos-item in baie mense se kombuiskaste en word dikwels gebruik as ’n plaasvervanger vir suiker. In supermarkte word heuningbotteltjies met kleurvolle etikette versier, en spog met beloftes dat dié produkte plaaslik vervaardig en 100% suiwer heuning is.
Volgens bronne in die bedryf, is party van hierdie beloftes egter soms misleidend.
Heuningbedrog in ʼn neutedop
Heuningbedrog gebeur wanneer suiwer heuning met opset gemanipuleer word en dan as ’n ‘suiwer’ produk verkoop word – selfs al voldoen dit nie aan internasionale graderingstandaarde nie, luidens ’n verklaring deur Apimondia, die internasionale byeboerevereniging.
Luidens die verklaring het heuningbedrog oor die laaste paar jaar toegeneem omdat daar ’n groter aanvraag vir heuning is as wat tans produseer word. Deur die heuning te manipuleer, verhoog heuningbedrieërs dikwels die volume van die produk om meer daarvan te kan verkoop, word daar in die verklaring verduidelik.
Om verskillende tipes suikerprodukte by suiwer heuning te voeg is een van die mees algemene maniere hoe heuning manipuleer kan word, volgens Mike Allsop, hoof heuningbynavorser aan die Landbounavorsingsraad in Stellenbosch. “Vir heuning om vervals the wees, moet dit bestanddele in hê wat nie [deur internasionale graderingstandaarde] toegelaat word nie,” het Allsop gesê.
Suiker kan ook by heuning gevoeg word wanneer byeboere bewustelik deur middel van “kunsmatige voertegnieke” vir hul bye suiker voer, volgens Allsop. Díe toename sal in die heuning se samestelling wys en die heuning sal dus vervals wees omdat die suikerinhoud nie natuurlik ontstaan het nie, het hy verduidelik.
Heuning kan ook op ander maniere vervals word, soos om met opset die geografiese en botaniese oorsprong van die heuning te verander en dit dan as iets heeltemal anders te merk en sodoende verbruikers te fop, het Allsop verduidelik.
Uitdagings vir die byeboerbedryf
Suid-Afrika produseer tans minder heuning as waarvoor daar ’n aanvraag is. Dit is weens verskillende onsekerhede in die byeboerbedryf, het Brendan Ashley-Cooper, voorsitter van die Wes-Kaapse byevereninging, gesê. Luidens ’n artikel deur southafrica.co.za, voer Suid-Afrika tans ongeveer 3 000 ton heuning in om aan dié aanvraag te voldoen.
Volgens dié artikel hou Suid-Afrikaanse byeboere ook minder as 5% van hul byekolonies op die plase aan, omdat hulle nie noodwendig al die grond besit waarop hulle boer nie. Byeboere is daarom afhanklik van private grondeienaars en natuurreservate in die omgewing om aan hulle bye se behoeftes te voldoen.
Oor die algemeen kan heuningbye eintlik enige plek oorleef, omdat hulle “hoogs aanpasbaar” is en kolonies kan floreer mits hulle deur die jaar toegang tot nektar en stuifmeelvoer het, volgens Dr Donovan Kirkwood, kurator van die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuin. Dít word beaam deur Paula Carnell, ʼn byekenner uit die Verenigde Koningkryk. “Dit is veral belangrik dat die heuningbye se primêre habitat, fynbos, beskerm word,” het Carnell per e-pos aan MatieMedia bygevoeg.
Ten spyte van heuningbye se aanpasbaarheid is habitatsverlies steeds vir aspirante byeboere ’n doring in die vlees en een van die bedryf se “grootste uitdagings”, volgens Ashley-Cooper. Omdat boere dikwels sukkel om gebiede te vind met genoeg omliggende plantspesies wat aanvaarbare toegang tot stuifmeelvoer vir die bye sal verskaf, raak dit moeiliker om volhoubare heuningbyboerderye te bestuur, het hy verduidelik. “Wanneer habitatte uitgeroei word, word daar dikwels glad nie aan die bye gedink nie,” het hy gesê.
Vir Natasha Lyon, ’n byeboer en eienaar van LYON Raw Artisan Honey, was dit belangrik om ’n nismark vir LYON se heuningprodukte te identifiseer. “Proegeleenthede bied die perfekte platform om inligting oor heuning en bye met heuningliefhebbers te deel,” het sy per e-pos aan MatieMedia gesê. “Ons ervaring is dat om inligting te deel oor heuning en hoe dit gemaak word, ’n direkte impak op die koopgedrag van die verbruikers het,” het Lyon gesê.
Weens die tekort aan byeboere én aan suiwer heuningprodukte wat vir die publiek beskikbaar is, is daar ’n gaping in die handelsmark, volgens Ashley-Cooper. Dié gaping maak dit dan juis maklik vir opportuniste om ’n kans te vat en die gaat met vervalsde heuningprodukte te vul, het hy gesê.
“Die meeste groot supermarkte vereis [wel] ’n vlak van produkanalise, so oogoplopende bedrog behoort grotendeels opgemerk te word,” het Allsop gesê. Maar omdat heuningbedrog op die oomblik ʼn winsgewende bedryf is, word daar altyd nuwe tegnieke uitgedink om vervalsde heuning op die rakke te kry en dít is die besmette produkte wat dan kan deurglip, het hy verduidelik.
Hoewel heuningbedrog veronderstel is om deur die Suid Afrikaanse departement van bos- en landbou ondersoek en bestuur te word, is daar volgens Allsop nog baie min inisiatiewe in plek gesit om dít te bekamp. “Heuningbedrog kan [op groter skaal] opgetel word, maar daarvoor het mens gesagstrukture nodig wat daarby betrokke is en tans het Suid-Afrikaanse bedryfsorganisasies nie daardie kapasiteit nie,” het hy verduidelik.
Benewens die bekommernisse oor toenemende heuningbedrog in die bedryf, is byeboere ook onrustig oor wat met die plaaslike heuningmark kan gebeur as heuningbedrog nie op die regte manier belig word nie, meen Allsop. “As verbruikers die verkeerde tipe snuf in die neus kry oor heuningbedrog, sal hulle baie minder of glad nie meer heuningprodukte koop nie,” het hy verduidelik. “Dit het ’n negatiewe impak op boere wat suiwer produkte oplewer, maar dit dan nie kan verkoop nie.”
Smeer (suiwer) heuning om die mond
Vir heuningliefhebbers is daar wel ’n goue wenk wanneer dit by hul aankope kom. “Wanneer ’n mens plaaslik vervaardigde heuning [direk] van die byeboere af koop, in plaas van die heuningprodukte wat in grootmaat by supermarkte aangehou word, is verbruikers byna altyd verseker van ’n suiwer produk,” het Allsop verduidelik.
Allsop meen dat dit ook belangrik is om heuningbedrog by kleinhandelaars aan te meld as dit opgemerk word.
“Dit is belangrik om kwessies soos heuningbedrog uit te lig sodat verbuikers daarvan bewus kan wees en navorsing daaroor kan begin doen,” het Ashley-Cooper beaam. Die bekamping van heuningbedrog op ’n verbruikersvlak hang af van die vlak van self-studie wat verbruikers bereid is om te doen, het hy gesê.
“Moenie net enige goedkoop produk van die rak af koop nie,” is Ashley-Cooper se beste raad. “Weet waar jou heuning vandaan kom.”